Die AP Kerk se hantering van die Heilige Skrif

Ons glo dat die hele Skrif deur God geinspireer is en daarom absolute gesag het. (2 Tim. 3:16, 2 Pet. 1:21, NGB 3)

Ons glo dat die Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. (NGB 7)

Ons glo dat die Heilige Skrif die hele wyse waarop ons God moet dien, beskrywe. (NGB 7)

Ons glo dat die Heilige Skrif normatief vir die hele lewe is en sy lig laat skyn oor alle lewensterreine. (Ps. 36:10)

Ons glo dat die Heilige Skrif die diepste sin van alle geskapene aandui, naamlik dat alles uit Hom, deur Hom en tot Hom is. (Rom. 11:36)

Ons glo dat naas die Heilige Skrif, God ook geken word deur middel van sy skepping, onderhouding en regering van die hele wereld. (Rom. 1:20, NGB 2)

Ons glo dat die drie formuliere van eenheid ‘n betroubare en beproefde samevatting van die Skrifwaarhede bevat en steeds ‘n beproefde kompas vir uitleg van die Skrif uitmaak.