Wie is die APK?

Op 27 Junie 1987 is ‘n nuwe kerk gestig in die Skilpadsaal te Pretoria. Nuwe gemeentes het vinnig ontstaan, wat in kerkverband met mekaar sou lewe. Later het hierdie kerkverband die naam “Afrikaanse Protestantse Kerk” (APK) gekry.

Die AP Kerk:  

  • Is ‘n kerk van Jesus Christus;
  • Is ‘n Protestantse Kerk;
  • Is ‘n Afrikaanse Kerk;
  • Is ‘n Gereformeerde Kerk, ‘n spruit van die kerkhervorming van die 16 de eeu, ‘n spruit wat ware kerk van Christus wil wees volgens die Calvinistiese vertolking van die Skrifinhoud;
  • Aanvaar die Bybel, die hele Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God;
  • Glo in die Drie-enige God(Vader, Seun en Heilige Gees) soos Hy Hom in sy Woord openbaar;
  • Glo dat die waarhede van God se Woord betroubaar saamgevat is in die belydenisskrifte (Twaalf Artikels; Geloofsbelydenis van Athanasius; Geloofsbelydenis van Nicea; die Nederlandse geloofsbelydenis; die Heidelbergse Kategismus; die Dordtse leerreëls);
  • Verkondig die volle Raad van God soos in sy Woord geopenbaar;
  • Weer alle partypolitiek uit sy prediking, huisbesoek, verbondsonderrig en ander kerklike werksaamhede;
  • Erken en respekteer die vryheid en selfstandigheid van die plaaslike kerk(gemeente) as volledig kerk van Christus, onder leiding toesig en regering van die plaaslike ouderlingraad en handhaaf ‘n kerkorde wat gebaseer is op die presbiteriale kerkregeringstelsel, ooreenkomstig die beginsels van Dordrecht;
  • Maak groot erns met die erediens, met die verkondiging van God se Woord, met die sakramente(doop en nagmaal), met die kerklike tug, die onderrig van verbondskinders en die opleiding van predikante;
  • Werk saam in meerdere vergaderinge, naamlik in ringe en in die sinode, waar elke plaaslike gemeente reg op gelyke verteenwoordiging het;
  • Ag dit sy roeping om barmhartigheidsdiens, evangelisasie en sendingwerk te doen;
  • Erken en respekteer die verinheemsing van Christus se kerk onder mense, dit wil sê dat in elke volk die mense wat in Christus glo, ‘n eie kerk vorm, en dat gelowiges gered word uit verskeie volkere;
  • Soek samewerking met ander Christelike kerke wat aan God se Woord getrou bly, en verkondig die Woord van God aan ander Christelike Kerke wat van die Woord afgedwaal het.